PRAYERWALKING
Elke nuwe geslag bring nuwe uitdagings en omdat ons ‘n dinamiese God het, bring Hy in nuwe tye, nuwe metodes van aanbidding en diens aan Hom. “Prayerwalking” is een van daardie gebedsvorme wat ook in nuwe tye nodig is vir Sy kerk. Die woordjie “prayerwalk” sê alles, daar is geen Afrikaanse woord om hierdie begrip mee mooi te vertaal nie en vir die huidige bly ons dan maar by “prayerwalking.”
Deur middel van hierdie gebedsvorm, word gebed “strate” toe geneem. Dit beteken geensins dat gebed in die binnekamer, of gebedsgeleenthede binne die kerk verval nie. Dit vul mekaar aan en staan nooit teenoor mekaar nie.
Die grondslag vir hierdie gebedsvorm lê in Jos.1:3 Elke plek waar julle voetsool sal trap, dit gee Ek aan julle. Christene wat op hierdie manier loop en bid is op ‘n praktiese manier besig om waar hulle loop die gebied vir Jesus te proklameer.
Die beginsel waarop hierdie gebedsvorm funksioneer is om te bid “on site with insight” Met ander woorde ‘n mens bid op die plek vir dit wat jy sien. Dit is amper soos om vir iemand te gaan bid wat siek is. Natuurlik kan jy vir so ‘n persoon by die huis bid, maar wanneer jy daar besoek aflê, sien jy die persoon se toestand, jy kan sien wat hy of sy nodig het en dan bid jy baie meer spesifiek. ‘n Mens kan ook vir jou woongebied by die huis bid, maar wanneer jy besig is om te loop en bid, is jy in die eerste plek baie meer afgesonder en afgesny van die alledaagse, jy is ook gefokus op die stem van die Heilige Gees en daarom kan jy baie meer spesifiek bid.
Wat om te bid?
Mense lewe in ‘n tyd waarin hulle baie terugslae beleef en waarin hulle baie twyfel, twyfel in God en in hulle geloof. Die volgende is belangrike sake waarvoor daar gebid kan word:
· Dat mense die Here se seën sal raak sien en begin beleef
· Vir die verbreking van die Satan se houvas op mense
· Teen verslawing
· Herstel van gebroke gesinsverhoudings
· Teen valse godsdienste of hoop
· Teen oordrewe liefde vir geld en besittings
· Vir fisiese, emosionele en geestelike welstand van mense
· Teen bandeloosheid, wetteloosheid, sedeloosheid, pornografie en wellus
· Teen geweld, inbrake, misdaad in die gebied
· Vra die Heilige Gees om sluiers van mense se oë af te haal, sodat hulle God se werking in hulle lewens sal raaksien.
· Vra die Here om iemand op hierdie mense se pad te stuur, sodat indien hulle Hom nie ken nie, hulle Hom sal leer ken
· Bid vir volharding vir die Christene in die gebied
Prakties kan ‘n mens die Woord bid. Lees gedeeltes voor terwyl jy loop en bid. Gebruik die Onse Vader, of van die Psalms. Herinner God aan Sy beloftes, bv. Eseg 22:30 “En Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie”.
Nou kan jy mos in gebed na God gaan en sê dat jy in die bres staan vir die hierdie mense en dat God hulle moet raak sien en seën.
Wanneer jy bewus raak van spesifieke demoniese aktiwiteite (wees sensitief vir die Heilige Gees se leiding in die verband), moenie inspring en die duiwel probeer uitjaag nie. Kry die hele groep bymekaar, bid en hoor wat is die strategie van die Here. Indien u nog nie seker is nie, kry raad by ander persone en u leraar.
Waar om te bid?
Spontane “prayerwalking” vind plaas as jy meer en meer bewus word om oral waar jy gaan, vir mense te bid met wie jy te doen kry. Neem bv jou woonbuurt of skool as teiken. As jy gaan stap of draf, bid vir dit wat jy raaksien. As jy mense sien loop of ry, bid vir hulle en spreek die Here se seën oor mense uit. Jou werksplek of skool is ‘n ideale plek om spontaan te bid, bid vir jou baas (hoof en onnies), jou kollegas (jou maats), jou kliënte, mense wat oor jou pad kom. Wanneer jy by kerke verby loop of ry, bid dat die Here regtig kragtig daar sal begin werk. Wanneer jy by jou eie kerk kom, neem net ’n paar minute en bid vir dit wat daar elke dag moet gebeur.
Op ‘n meer georganiseerde basis bid ons dan vir elke huis in ons woonbuurt. Spanne van 4-6 word uitgestuur en kry ‘n kaart en bid daarvolgens van huis tot huis. Die gebedspan kan hulle eie tyd reël om te stap. Die span verdeel in twee en loop aan albei kante van die straat en bid (Moenie te veel saam loop nie, dit trek onnodig aandag). Later kan daar ook by ander plekke gebid word, soos bv by bordele, nagklubs, plekke waar daar tragedies plaasgevind het, poorte van die stad, plekke waar Satanistiese rituele plaasvind, regeringsgeboue, munisipale kantore, ens.
Voorbereiding
Fisiese en geestelike voorbereiding is uiters noodsaaklik. Stap gereeld sodat u fikser kan raak. Elke stapper moet een intersessor of meer hê wat vir hom of haar bid terwyl hy of sy stap. Dit is noodsaaklik om geestelik voor berei te wees. Bid eers voor jy gaan stap, bid vir die beskerming van die Here tydens die stap en daarna, ook vir jou gesin se beskerming. Trek die volle wapenrusting (Efes 6:10-18) elke keer aan.
Die eerste keer as u deur ‘n gebied stap wees baie sensitief vir die Heilige Gees se leiding, neem waar, skryf neer en gaan bid gedurende die volgende week daaroor. By ‘n volgende keer kan ‘n mens baie meer intensief bid vir die gebied. Skryf gewaarwordinge in elk geval neer, dit is baie belangrik, deel dit in die groep en oorhandig dit aan die koördineerder.
Dissipline tydens ‘n “prayerwalk” is baie belangrik, moenie gesels terwyl u stap nie, u is daar om te bid en op God alleen te fokus. Die groep besluit self watter dag en tyd hulle gaan stap. Die eerste 10 minute bid die groep saam, u kan een of twee lofliedere sing, daarna stap die groep vir ongeveer 40 minute, die laaste 10 minute word gebruik om terugvoer te gee en om af te sluit. Hou aan om gedurende die week te bid vir die gebied en dit wat jy waargeneem het, bid spesifiek (“Ek bid vir die tannie met die blou rok wat op die stoep gesit het, die mense in die huis met die rooi dak). Bid ook elke dag vir die ander lede van die groep.
Wees voorbereid op moontlike demoniese aanvalle, laat weet onmiddellik u koördineerder en/of leraar, sodat ons kan bid.
Opgestel deur ds Peet Grobbelaar: 012 997 8115


