DOOPVIERING IN MORELETAPARK GEMEENTE
Op Saterdag 16 Augustus 2008 het ons gemeente ons eerste doopvieringsdiens gehou. Vir baie mense was dit ‘n belangrike dag op die kalender van hul geestelike lewens.
Wat is die doopviering?
Hierdie vraag neem ons terug na ons eie doop as kinders. By hierdie geleentheid het God Homself aan die dopeling verbind en verklaar dat Hy graag vir daardie kindjie ‘n God wil wees. Terselfdertyd verbind die ouers van die gedoopte kindjie ook hulself daaraan dat hulle hom/haar vir die Here sal grootmaak en sal begelei tot ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus. Hierdie doop, ook bekend as die verbondsdoop, word voortaan die Christelike doop genoem. Dis belangrik dat ons by die regte terminologie bly om verwarring uit te skakel.
Die doopviering word bedien aan lidmate wat ‘n pad met God stap en alreeds ‘n besluit geneem het om die Here met hul hele lewe te dien. Die doopviering is nie ‘n herdoop nie. Met die doopviering word die belofte wat God aan die dopeling gemaak het by die Christelike doop tog nie ongeldig gemaak nie. Die belofte wat ouers gemaak het om hul kindjie vir die Here groot te maak kan ook nie ontken word nie. Die doopviering dien om die geloofspad, wat die gelowige met God stap, te vier.
Wie kwalifiseer vir die doopviering?
God se pad met elkeen van ons is uniek. Sommige van ons word groot, bewus van God se sorg en betrokkenheid in ons lewens. Diegene leef binne die beloftes van God en daar is geen twyfel dat hulle Hom met woord en daad wil behaag nie (2 Timotheus 1:5).
Ander mense het later in hul lewens ‘n lewensveranderende ontmoeting met die lewende God. Dikwels is daar by diegene ‘n brandende begeerte om daarvan te getuig. Die doopviering bied dan die geleentheid om in die openbaar te getuig wat God in hul lewe gedoen het.
Hieronder tel:
- Mense wat onlangs tot bekering gekom het
- Mense wat, soos Jesus in Lukas 3:21-23, hulself aan God wil verbind met betrekking tot hul roeping
- Mense wat wil getuig van die feit dat hulle hul sondige lewens afgelê het en daarmee saam wil bevestig dat hulle “saam met Christus gesterf het en begrawe is, maar ook deur Sy opstanding lewend geword het vir God” (Rom 6:11, Gal 3:27)
- Mense wat in hul geloofslewe teruggeval het en hulself opnuut aan God wil toewy, of na ‘n siekbed of tyd van swaarkry hulself opnuut aan God wil verbind; en
- Mense wat graag hul Christelike doop wil vier.
Hoe gereeld gaan daar ’n doopvieringsgeleentheid wees?
1 x per kwartaal.
Hoe moet ek maak om by die volgende doopvieringsgeleentheid bedien te word?
Registreer betyds by Alisha by 012 997 8034 of alisha@moreleta.co.za. Sy sal jou per e-pos verwittig van die drie toerustingsgeleenthede asook die volgende doopvieringsdatum. Alle voornemende doopvierders moet asseblief al drie die toerustingsgeleenthede bywoon.


