Die DOOP-kursus - ’n Geestelike ervaring
“Laat die kindertjies na My toe kom …want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle”. Luk 18:16
Almal wat die doopkursus deurloop het, getuig dat dit vir hulle lewensveranderend en tot groot geestelike seën was. Sommige ouers was aanvanklik opstandig en nie lus om met al die gesukkel van ’n klein babatjie, hierdie kursus ook nog by te woon nie. Hulle het selfs gedink dat dit onnodig is. Agterna getuig ouers egter dat hulle dankbaar is vir die kursus en dit wat hulle kon leer.
Ouers belowe voor God dat hulle die doop nie aan hulle kinders laat bedien bloot uit gewoonte of omdat dit ’n goeie tradisie is nie. Deur die doopkursus wil die kerk elke doopouer help om die Bybelse begronding van die kinderdoop te verstaan en hul kind met die regte motiewe en oortuigings te laat doop.
Die kursus bestaan uit 3 sessies wat handel oor die plek van kindertjies in God se verbond, die geloof van die doopouers en wat dit in die praktyk beteken om kinders in ’n Christelike huis groot te maak vir die Here.
Elke ouer ontvang met registrasie ’n doopkursus-handleiding. Hieruit kan man en vrou saam Bybelstudie doen, vrae bespreek en hulle goed voorberei vir elke aand se sessie.
Kursusgeleenthede word gewoonlik op Wo- en Do-aande vir 3 opeenvolgende weke aangebied en begin om 19:00. Man en vrou moet verkieslik saam hierdie sessies bywoon.
Ouers moet die doopkursus liefs sonder hul babas bywoon. Tref asb vroegtydig reëlings daarvoor. Die Leraarkring bedank u vir u samewerking in die verband.
Alle lidmate wat hulle babas wil laat doop moet eers die kursus deurloop. Ook ouers wat ’n toestemmingsbrief by die kerkraad verkry om hulle kinders in ander gemeentes te laat doop, moet ook eers die kursus voltooi
Die doopgeleentheid vind op die 1ste Saterdag van elke maand om 10:00 in die Woodlands ouditorium plaas. Doopgeleenthede is eredienste wat fokus op die doop van die babas en die toerusting van ouers, vriende en familie wat saam bly is oor die nuwe baba se koms.
’n CD en DVD van die geleentheid word gemaak en is beskikbaar op bestelling by limietloos.
Navrae oor die doop en vooraf registrasies kan gedoen word by Marlene by 012 997 8062 of
marlene.jordaan@moreleta.co.za




