08/08/1988 – 08/08/2008
20 jaar van Omgeegroepe in Moreletapark Gemeente
Gedurende Augustus 2008 herdenk ons 20 jaar van Omgeegroepe in ons gemeente. Ons prys die Here vir die manier wat Hy Omgeegroepe in die gemeente gevestig het en wêreldwyd begin gebruik het om geestelike groei te bring en om Sy hande en voete te wees!
In 1988 het die bediening onder leiding van Ds Dirkie van der Spuy tot stand gekom met 20 leiers wat opgestaan het. Dit het gebeur na ‘n tyd van gebed en soeke na God se strategiese plan om groei, verdieping en uitbreiding in die gemeente te bring.
In 1998 was daar reeds 140 groepe gevestig, in 2000 is jeuggroepe begin en in Augustus 2008 is daar ongeveer 550 (insluitend kinder- en jeuggroepe). In hierdie groepe het lidmate weekliks bymekaar gekom en God aanbid op die manier wat onder andere in Handelinge 2:41-47 uiteengesit word.
Aan God al die eer vir soveel lewens wat verander het in Omgeegroepe. Lidmate met dooie vormgodsdiens het ervaar hoe God se lewende water al dieper en wyer begin vloei en hoe nuwe lewe in en om hulle begin uitspruit. Diens, uitreik, omgee en leierskap het begin blom.
Karus Prinsloo
Bestuurder: Omgeegroepbediening

